Akkommodasie by Die Oord PV3 bestaan uit 18 huise, elk onder toesig van ‘n huismoeder wat in totaal 180 mans en vrouens kan huisves.  Soos inwoners ouer word, speel die huismoeder ‘n belangrike rol deur hulp te verleen aan inwoners ten opsigte van basiese take soos byvoorbeeld skeer, tande borsel, versorging van hare en die opmaak van beddens.  Die huismoeder is ook verantwoordelik vir die sortering van wasgoed en die inwoners geniet dit om hand by te sit.

Die Oord PV3 se toegewyde personeel verseker dat inwoners drie gebalanseerde maaltye per dag ontvang wat in die ten volle toegeruste kombuis voorberei word.  Dit is ook hier in die eetsaal waar inwoners hul medikasie onder toesig van die verpleegkundige personeel en huismoeders ontvang.

Ons opgeleide en toegewyde verpleegkundiges maak seker dat inwoners optimale mediese versorging ontvang.  Algemene mediese probleme word opgevolg en daagliks behandel.  Bloeddruk van pasiënte op bloeddrukmedikasie word gereeld gemonitor en aangeteken.  Bloeddruksiftings word ook op ‘n gereelde basis gedoen om probleme vroegtydig op te spoor.  Die inwoners word ook gereeld geweeg en maandelikse versorgingsinspeksies verseker dat ons streng standaarde gehandhaaf word.

Ons goed toegeruste spesiale versorgingseenheid word vir bykans 10 jaar reeds suksesvol bedryf.  Hier kan inwoners hul aftrede rustig tegemoet loop.  Personeel in hierdie eenheid is 24 uur aan diens.